Vroue

Dis laterig Dinsdagmiddag.

Vandag – 8 Maart – is Internasionale Vrouedag.  Hierdie dag word deur die Verenigde Nasies gesteun en wêreldwyd word daar vandag gefokus op vroue, op vroueregte en alle aspekte wat vroue asook hul status en gelykheid impak.  Vroue word gevier, geprys en bespreek.  Daar word gelukwense herwaarts en derwaarts gestuur.  Goeie bedoelings en opregte waardering.  Vir ‘n oomblik lig die Wêreld sy hoed vir vroue.

En te midde van die wereldwye erkenning en ondersteuning is daar duisende vroue van alle ouderdomme wat vandag doodgaan, seerkry, verkrag word, honger is, sien hoe haar familie swaarkry.  Daar is vroue wat sy-aan-sy met ander krygers bomme en geweervuur in die gesig staar, wat net so hard saamveg vir hulle land en hulle mense.  Daar is vroue wat innerlike oorloë voer.  Sommiges met swaar, donker en moeë harte.  Sommiges sal vanaand nie weet wat sy of haar geliefdes gaan eet nie.  Vir party is daar somber nuus oor gesondheid.  Miljoene vroue staar nou, op hierdie Internasionale Vrouedag, van die grootste uitdagings in hul lewens in die gesig. 

Ons sal vir maande kan praat oor vroue, oor ons rol in die samelewing.  Oor die goed en sleg, die sterk en swak, sommer oor alles wat ons as vroue uniek maak.  Maar vandag skryf ek hierdie om net vir ‘n oomblik stil te staan, om ‘n stukkie van my hart in hierdie spesiale dag in te skryf en opreg te sê:  Ek sien JOU! 

  • Vir jou, eens fors en formidabele vrou wat met jou oudmens lyfie broos elke nuwe dag ingaan, met dankbaarheid maar ook die wete dat jy reg is vir die laaste groet.
  • Vir jou wat wonderbaarlik ten spyte van soveel uitdagings steeds fokus op die positiewe, wat tap-tap positiwiteit uitdeel waar ookal jy gaan, wat hoop en wag vir nuus oor daardie nuwe pos wat jy so deksels baie verdien.
  • Vir jou wat ekstra werkies doen ten spyte van die erg-lange myle wat jy daagliks vir brood-en-botter moet ry, en steeds die goed in alles raaksien.
  • Vir jy wat gebreek en donker is en steeds nie opgee nie.
  • Vir jou wat bangmaak nuus oor jou gesondheid gehoor het, vir ‘n oomblik gehuil het, diep asemgehaal het en nou soos ‘n trooper voortbeur met planne vir beter word en vol hoop fokus op jou medium-termyn doelwitte.
  • Vir jou wat tot satwordens toe die behandeling aanpak en deursien om die oorhand oor kanker te kry, wat leeg en uitgemergel kort blaaskansies vat en dan weer opstaan en die mooiste prentjies met ons deel.
  • Vir jou wat jou sussie mis wat heeltemal te skielik weg is Huis toe.
  • Vir jou met die seer oor jou kind se verwerping al is jy nou gelukkiger as ooit.
  • Vir jou wat amper oombliklik ‘n nuwe kultuur moes gewoondraak in ‘n grootmenswereld waar min dinge sinmaak, en steeds straal.
  • Vir jou wat binnekort ‘n nuwe mamma sal wees.
  • Vir jou wat sopas getroud is en ‘n hele nuwe lewe het wat voorlê.
  • Vir jou wat nou waarskynlik reeds onder narkose is, wat aanhou vasklou aan hoop al is jou hart en siel pimpel en pers.
  • Vir jou wat besig is om ‘n hoofstuk van meer as 13 jaar toe te maak terwyl jy jouself weer van vooraf ontdek, nadat jou vertroue aan flarde geruk is.
  • Vir jou met die mooi sagte glimlag wat so hard werk om jou eie, unieke besigheid aan die gang te hou, met jou lappopstories en prentjies.
  • Vir jou wat ampertjies aftree en ‘n hele nuwe avontuur aanpak as jy vir jou ‘n huisie by die see gaan bou.
  • Vir jou wat aanhou soek na jou plekkie in die son, wat nie mooi weet waar jy inpas nie, maar wat steeds ‘n ligstraal in ander se lewens is.
  • Vir jou wat oor lang afstande heen steeds ‘n hartsvriendin is wat na lang stiltes weer ‘n geselsie kan maak asof ons mekaar gister gesien het.
  • Vir jou (julle) wat my liefde vir bome meeleef en vir my die mooiste boomfotos van regoor die wereld stuur.
  • Vir jy wat my aanmoedig om te skryf, wat my blogstories ‘like’ en positiewe kommentaar en soms kritiek gee.
  • Vir jy wat aanhou boodskappies stuur, al is ek vrotsleg om by te hou.

Soos ek skryf besef ek dat ek kan aanhou en aanhou, dat daar soveel absolute merkwaardige, sterk vroue om my is.  Dat elke liewe ene op ‘n unieke manier ‘n hemelse seening vir my is.  Ek Sien Jou!!!

Liefste Ma, Suster, Maat, Vriendin, Kollega, Kennis, Entrepreneur, Vrou –

*Dankie vir elke omgee boodskap.

*Dankie vir elkeen wat in my glo.

*Dankie vir elke sekonde wat jy aan my af(ge)staan (het).

*Dankie vir die lesse.

*Dankie dat ek ‘n stukkie van jou lewe mag aanraak en/of deelmaak.

*Hou moed!  Bly glo!  Werk hard, maar speel harder!

*Stuur ‘n inloer boodskappie vir iemand spesiaal.

*Staan sterk.

*Hou vas aan Jesus.

*Wees jouself – jy is meer as goed genoeg.

Persoonlik dink ek die hele mensdom kort gesondword.  Daar is soveel onreg, haat, seer, afguns tussen mense oraloor.  Maar ons as vroue het die vermoeë om uit gebreekte stukkies die mooiste kunswerke te maak.  Ons is dapperder, mooier, sterker, ryker as wat ons ooit sal erken.  En as ons saamstaan kan ons verseker die wereld ‘n beter plek maak.

Ek wens vir JOU, mooiste vrou, ‘n wonderlike Internasionale Vrouedag.  En mag elke liewe dag en oomblik wat volg vir jou vol geluk, vreugde, krag en genade wees.

Lolla-liefde

Ek-self lyk maar vaal vandag, nie heelemal gesond nie en woestelike hare dag. Onthou, opgee is nie ‘n opsie nie. Shout-out to all my sisters around the globe.
Bestest Wishes to all the Ladies out there
The Light within you becomes a Light for someone else

10 thoughts on “Vroue”

Comments are closed.