Moegkop Inloer

Dis Maandag. ‘n Magtige dag, ene wat met vele mense se koppe en harte mors. En tog so vol geleentheid en kanse.
Vandag is Internasionale Moedertaaldag. En ek is diep lief vir Afrikaans. Ek wens ook heimlik ek was meer tale magtig.
Dis donker in die huis, so asof die reenwolke weer buite saampak.
Dis lank vandat ek laas ‘n sinvolle, behoorlike stuk geskryf het – ‘n skryfstuk met lyf.
My 50ste verjaarsdagviering was heerlik. Ek sal nog graag ‘n paar fotos hier deel. Ek kort net energie. My woema is wraggies weer weg.
Februarie snel ten einde en ek is steeds verwonderd oor hoe flietend die lewe is.
Skoonouers kom kuier vir ‘n paar weke, land ongeveer nou met die grootvlerkstaalvoëltuig.
Hoeveel van julle het al rerige groot, lewensveranderende besluite gemaak – bangmaak skrikbesluite vol belofte van beter more’s? En hoe het dit vir jou uitgewerk? (Una, ek moet juis bietjie opvang met hoe dinge daar by jou gaan.)
My kop is besig maar my lyf is moeg en my asem is min. Die honde se geblaf is vanmiddag so half ‘n foltering. Dat twee klein worslyfies sulke moerse groot stemme kan hê. Ntsssh.
Genoeg vir nou.
Ek loer gou weer in met stories en kiekies.

Lolla-groete

5 thoughts on “Moegkop Inloer”

  1. Ah, dan was dit nou ook eindelik ook jou 50ste! Ek se solank hartlik geluk en stuur mooie seenwense 🎉.
    Groot en ingrypende besluite … ek en my man het beslis! Ons werke bedank, uit die “rat race” ontsnap, ons groot huis in die Kaap verkoop, paar motors verkoop en baie goed weggegee (ja, weggegee en nie verkoop nie) … en toe na ons klein en eenvoudige huisie langs die Weskus getrek – lewe minimalisties, maar het uiteindelik balans gevind … en vreugde en rustigheid.
    Hoop die moeg los jou gou 🌸.

    Like

Comments are closed.