Vroegoggend Biduur

Vanoggend het my bid-uur onbepland in ‘n ‘bird’-uur verander.  Terwyl ek vroegoggend tuin toe gemik het met my kop en hart gelaai met vrae, kommer en drome, het ek my beker koffie en sommer ook my kamera saamgedra.  Na al die baie, onlangse reen het die mooiste koningsblou hemel my buite gegroet. 

Eers is my aandag na die blommetjies in my tuin, die aartappelplant wat blom, die twee nuwe suurlemoene aan ons suurlemoenboom.  Terwyl my oë al die mooi om my inneem juig my hart oor die wonderlike voorreg om ‘n tuin te hê.

Die babaslak en ‘n wit daisy

Terwyl ek die langerwordende lysie van onlangse uitdagings in my kop probeer rangskik en terwyl ek stil met die Groter Hand praat, hoor ek die voëls in die herfs-boom agter ons huis. Gewapen met my kamera kies ek in my pantoffels, en gepantser in ‘n pienk trui en groen wintersbaadjie, koers in daardie rigting. 

Vind jy ook saligheid in die natuur?  Dis amper asof daar beter ‘opvangs’ is wanneer jy buite bid.  Net hier buite, in my tuin, kom raak die Here aan my skouer en voel ek Sy Hande saggies en warm om my hart.

En so word ‘n uur in die buitelug ‘n Jesus-uur.  Ek reken ‘n mens sal nooit rerig vir iemand kan beskryf hóé die sinergie tussen hart, natuur en geloof prysloos kosbaar is nie.  Dis iets wat elkeen self moet beleef.

Ek deel graag van my oggend fotos met jou.

LollaseGroete ♡

5 thoughts on “Vroegoggend Biduur”

Comments are closed.