Woud-stories

Vir Sus

Dit was ‘n bedompige, reenerige Desember. Die klein groepie vakansiegangers het twee middeljarige susters ingesluit. Die paar dae in ‘n tropiese woud het broodnodige rus beloof, maar ook groot opwinding vir die amateur- voëlkykers en fotograwe.

Die paar dae vêr-weg van die huis af het ook nie teleurgestel nie. Inteendeel, met mis wat uit die woudvloer teen die wand van die kloof opkruip en die geklopklop-klank van die Knysna Loerie in die bessieboom voor die vakansiehuis, het die kortvakansie oorgeloop van vreugdes en vindings.

Tyd wag vir niemand nie, en juis so wanneer ‘n mens met vakansie is. Een waarna jy uitgesien het. Dan maak jy mos die heel beste van die wegbreektydjie, jy eet die spek-en-vye pizza, jy gaan stap met jou stywe lyf, en jy spring vroegoggend uit die kooi as die Kleinsus buite jou kamervenster gil van plesier oor die kuifkoparend wat so entjie weg op ‘n paal sit en pronk. Dan gryp jy jou kamera en hang lostêtte in jou pienkste pajamas by die sy-venster uit om ‘n beter foto te probeer kry.

Hier in die digtebos-woud kan jy jouself bekruip en dan vir jouself skrik, as die oorverdowende stilte jou vel van binne laat kriewel. Meer nog as die uil wat laatnag buite hooohooo wanneer dit slaaptyd raak.

Dis ook hier in die bos, waar die humiditeit jou vel taai laat kriewel, waar sussies ‘n waterval loop soek, gly-gly met die modderige blarevloer langs. Waar die stapstokke oortyd werk en die lyf se skroewe, moere en skaniere behoorlik getoets word met die styl op-en-af teen gladde klippe. Dis hiér, waar daar goeters oor jou lewenspad kom – what happens in the Kloof stays in the Kloof – wat jou vir ‘n paar minute laat vergeet van al die wêreldse kak-&-drama en jy lag asof jy ‘n Hollywood salaris daarvoor betaal word. En jy wéét: dis hierdie klein oomblikkies wat saakmaak.

Kort-voor-lank is almal weer terug in die tuig, die Kersboom weggepak en die blink liggies vir eers gebêre. Die laaste verdwaalde bosgoggas is uit die reissakke geskud en die stapskoene en sonhoed netjies in die kas teruggesit. Vir maande, en sekerlik jare daarna, word herinneringe aan die woudvakansie geherkou en soos ‘n ou fliek oor en oor uit die geheue opgediep en weer beleef.

9 thoughts on “Woud-stories”

Comments are closed.