Winter, liewe winter. Tatatata 👋

Winter het ‘n manier om verkeerd aan mense se lywe te loop sit. Nie almal is voorstanders van die kouer seisoen nie. En tog het ek (en Kleinsus) nog altyd ‘n liefde gehad vir die grouer wintermaande.

Dis nou, tot Winter 2024. Ek dink ek het nou my leeftyd se winterliefde gedeurleef. Platgetrek met die allervieslikste griepgogga, klaarblyklik die ot-ene. Sewe weke lank siek-siek, sieker as siek. Seer en hoeserig. Dinge lek wat nie moet lek nie. My stem rasper meer as rasper-rasper. Siek-en-sat vertel ek vir julle.

Verlede maand sien ‘n ou skoolvriend van my, erens in New Zeeland, my dubbel. Heng, sou ek nou nie graag ook vir my doer ver wou raakloop nie. Wonder nogal hoe ek met ‘n All-Black Kiwi aksent sal klink.

Ingelsman word ook hard geklap met die einste gogga.  Ons maak beurte om te neb en tussen-in word pype en maskers gesteriliseer. My ouvrou Vlooi honnemeisiekind eindig by die Veearts op met ‘n gebarste sist op haar vel. Ek tjank sommer toe ek haar daar moet los oornag, maar ‘n dag later kom sy huistoe met die voorheen-gapende wond suksesvol toegewerk.

Tannie Santa brei die mooiste hoop-beertjies en kleinsus kap dit flou met haar nuut-aangeskafte loom-masjientjie. Ek wonder hoeveel mussies sy al gemaak het vir haar kerk se Hoop-projek.

Ek probeer ook vasklou aan Jesus, maar ek voel nie van veel nut op die oomblik nie. Seker ook maar omdat ek ‘n ou dramakwien van formaat is. En steeds bederf die Here my met genade in oorvloed. Hoe amazing is dit nie.

‘n Hartsvriendin wat ek lanklaas gesien het kom laasweek vir ‘n dag of 3 by ons oorslaap, om my te help beter word. Daar word butternut sop gekook en bloekomolie aangesmeer. En ons praat land en sand, so tussen die hoesery deur.

Al voel ek nou half klaar met hierdie winter, het ek tot my eie lekkerkry hierdie jaar ‘n lanktyd projekkie 🧶klaar gehekel. Ek sit een van die dae fotos op van die voltooide kombers (wag, kyk hier onder ⬇️). Daar moet nog ‘n paar blomme gehak en aangewerk word. Maar die feit dat ek die unieke bers so ampertjies kant-en-klaar het, laat my hart sing.

Hulle sê mos All good things come to those who wait en This too shall pass, so ek wag geduldig vir Lente.  En intussen is ek dankbaar vir elke dag se bietjie beter raak.  Heng ons mis ons Piekanienie, die min sien vat aan mens se hart. Ons sien uit na ‘n naweek in die bos oor ‘n paar weke saam met hartskinners.  Ousus-hulle het intussen Kapenaars geword.  My kerngroepie hartsmaats hou my steeds oor lang afstande heen gegrond.  En, nes hierdie pienk bloeisels 👇, is daar altyd die belofte van hoop en nuwe lewe.

Tata Winter-2024! Respek, maar ek like jou min.

Lollase-khuggekhugge-groete

5 thoughts on “Winter, liewe winter. Tatatata 👋”

  1. liewe Lolla hier sit ek ook vanoggend en hoes en proes, maar ek h nie geweet jy is al so lankal siek nie. Jou vrolike gees gaan jou deurdra tot in d middel vd lente!

    Liked by 1 person

    1. Ai ou Seegogga maar jy is mos ook nou al ‘n rukkie olik, of hoe. Nee wat jong ons moet nou maar net beter raak. Basta met hierdie gesiekweesery. Dankie vir die inloer. 🥰

      Like

  2. Oooo, ek voel saam met jou. Twee weke terug ook daardie hoes ding gehad. Gelukkig het ek hom gou stop gesit met asma pompie en nog ‘n voorkomende pompie wat ek in 2020 gekry het. Toe kry ons heerlike weer. Lente! Wat wou, van gister af vries ons weer. Dis bibber koud en reën, brrrrrrr. Nou begin my rumatiek protesteer teen die koue. Kom sonnetjie, kom tog weer uit asseblief. Baie bly jy is besig om na die beter kant van die siekwees oor te gaan. Rus maar genoeg ook. Hoop jy’s gou weer reg.

    Like

    1. Dankie vir die lekker inloer Scrapy. Nee heng ek is self op kroniese asma behandeling en het nou ‘n ekstra pompie bygekry vir noodgevalle nadat ek vir my een aand in ‘n beswyming ingehoes het. Was erg siek, 2 maal amper gedink hier kom ek nie annerkant uit nie. Maar kyk nou net, ek is wraggies terug in die land van die lewendes. Hier ook koel vandag en heelwat wolke. Dalk kry ons reen 🤞💐☔️

      Altyd lekker om van jou te hoor. Pas jouself op.

      Like

Comments are closed.