Toe ons nog kinners was

‘n Storie vir my anna-ene

Annapat, onthou jy die modderkoekies wat ons saam met ons anders-geskakering maatjie gebak het toe ons piekanienies was? Dit was by daai ‘ongeluk-huis’ waar pa die sirkelfens opgesit het. Daai tyd voor my platvoete toe ek nog wiektrieks langdoring was met my ratse, fratserige hol-styl.

Ek praat nie van die ongeluks-huis waar die trok donkeroggend daai tyd amper vir pa moertoe gery het voor ‘n SA-NewZeeland rugbytoets nie. Ook nie van enige ongelukshuis waar ons moontlik elkeen erens in ons leeftyd vasgevang geraak het nie.

Daai kleintydhuis waar ek ‘jou lewe gered het’ toe die staalkas in die badkamer ampertjies op jou geval het. Daai glasie waar Ma haar permgoete aangemaak het, het op my kop geval toe die boonste deurtjie tydens die val oopgegaan het. Ek het gedink ek is ‘n heldin.

In daai einste huis het ons mekaar een winter in ons nuwe pajamas in die huis rondgejaag, al het ons die reel geken van: “niks hardloop binne die huis nie”. Jou broek se pype was heelemal te lank. Dankie tog jy het nie ‘n oog verloor nie, maar daai oop wond in jou kop waar die tafel se skerp kant jou getref het (of eerder jy die tafel getref het), het woes gebloei.

Dit was ook dieselfde huis waar ons met ons fietse op die ronde sementtafeltjie gewaaghals het. En waar ek jou as my plekmerker op die vloer laat lê het om te sien hoe vêr ek vanaf die tafelvlak kon spring. Ek sou halt roep wanneer jy winduit beduie het jy kan nie meer nie.

Kleinsus, kan jy onthou of ons ooit daai modderkoekies met erdwurms in geeet het? En hoeveel letsels het jy oorgehou van ons tyd daar in een van ons grootworddorp se hoofstrate?

Die goeie ou dae…

14 thoughts on “Toe ons nog kinners was”

  1. Dit klink of julle heerlike kinderdae pret gehad het! Onskuldige lekker gesonde pret. Was so lekker om dit te lees en laat my ook wonder….het jul daai koekies geproe??

    Liked by 1 person

Comments are closed.