Toe ons nog kinners was

‘n Storie vir my anna-ene

Annapat, onthou jy die modderkoekies wat ons saam met ons anders-geskakering maatjie gebak het toe ons piekanienies was? Dit was by daai ‘ongeluk-huis’ waar pa die sirkelfens opgesit het. Daai tyd voor my platvoete toe ek nog wiektrieks langdoring was met my ratse, fratserige hol-styl.

Ek praat nie van die ongeluks-huis waar die trok donkeroggend daai tyd amper vir pa moertoe gery het voor ‘n SA-NewZeeland rugbytoets nie. Ook nie van enige ongelukshuis waar ons moontlik elkeen erens in ons leeftyd vasgevang geraak het nie.

Daai kleintydhuis waar ek ‘jou lewe gered het’ toe die staalkas in die badkamer ampertjies op jou geval het. Daai glasie waar Ma haar permgoete aangemaak het, het op my kop geval toe die boonste deurtjie tydens die val oopgegaan het. Ek het gedink ek is ‘n heldin.

In daai einste huis het ons mekaar een winter in ons nuwe pajamas in die huis rondgejaag, al het ons die reel geken van: “niks hardloop binne die huis nie”. Jou broek se pype was heelemal te lank. Dankie tog jy het nie ‘n oog verloor nie, maar daai oop wond in jou kop waar die tafel se skerp kant jou getref het (of eerder jy die tafel getref het), het woes gebloei.

Dit was ook dieselfde huis waar ons met ons fietse op die ronde sementtafeltjie gewaaghals het. En waar ek jou as my plekmerker op die vloer laat lê het om te sien hoe vêr ek vanaf die tafelvlak kon spring. Ek sou halt roep wanneer jy winduit beduie het jy kan nie meer nie.

Kleinsus, kan jy onthou of ons ooit daai modderkoekies met erdwurms in geeet het? En hoeveel letsels het jy oorgehou van ons tyd daar in een van ons grootworddorp se hoofstrate?

Die goeie ou dae…

Deur Koue Bekruie

So loop lê ek vroeer in ‘n stomende bad met soute en borrels en ‘n net-so-stomende beker koffie.

Dit is ysiglik, ontsettend koud vandag. Die wind waai al heeloggend tussen 24 – 36 kph in ‘n Noordelike rigting. Of altans, so beweer my twee weer-toeps.

Ek lê en kyk deur al die nuus en boodskappies op my foon. Praat met paar vriendinne, plaas ‘n klient se bestelling, sorteer fotos.

Die koffie is al laaankal klaar gedrink. Ek tap so met my groottoon 2 maal nog warm water by. Ek week, was en prokrastineer soos ‘n kenner.

Dis toe dat ek voel hoe my ore pyn. Dis omtrent net my ore, boobs, stukkie pens en paar tone wat bo die watervlak uitsteek. O, en my gebuigde knieë. Ek loer vlugtig na die tyd op my foonskerm. Goeie Liefe Donnor tog ek lê al ampertjies 2 ure in die bad. 🙄🫨😳🥶

Die uitklim was moeiliker as die inklim. Daar loop darm nou weer bloed deur al die gevriesde are. Die rinkelvel is amper weer glad. Maar my ore pyn steeds.

More stort ek!!!

Lolla-wintergroete

Groete-goete

‘n Hartlike, warm HELLO DAAR vir al my blogvriende(-inne) hier. Ek hoop dit gaan goed by elkeen. Ek dink aan so baie van julle. Wonder hoe dit oral op die plase gaan. En oor die groot water. En in Mos. En veral Rebusfontein…. ek mis die plek en sy mense. Vriendelike hartsgroete hier van my kant af, vir jóú.

Soet wees xx

Genade & Hoop

Nuwe dag
Dinsdag
Koud en bewolk
Ek is dankbaar, oorweldig
Waar vat, waar los
Teveel seerkry, swaarkry, hartseer
Koud
Dankbaar
Warm honnelyfies
Gaan ouma word
Voel soos 'n stuk breiwerk met baie los steke
Boek staan oop, vir verder skryf, maar pen en hand skop vas
Teveel seer
Magteloos, broos
Ons is letsels in 'n stukkende opgef●《{€ wêreld
Skryf is werk
Werk is goed
Roetine is waardevol
Opgee is nie 'n opsie nie
Land met sy Rand in sy donner in
Oorlog, bloed, lief, veraad, steel, skelmstreke
Een moerse groot donker gat
Stapelgekke-stukkendgeit

OOK ...

Sonskyn deur die wolke
Ligdraers
Omgee-mense
Vasbyt-mense
Eerlike en eerbare mense
Opregte mense
Warm bed, warm koffie
Geleenthede in oorvloed
'n Genadige Hemelse Vader
Warm harte
Mooi harte
Groei
Leer
Ontdek
Hoop
Genade
Lag
Vriende
Die NATUUR
En Hoop!
Dankbare harte
Musiek
Blykskap
Nuwe lewe
Gas en kragopwekkers
Kontak
Gebede
Genade op genade
HOOP!
Asem
Kanse
Mense sonder skanse
Liefde
Engele om ons
Die Wind
Vars nuwe oggende

Genade & Hoop

Koffie & Sonskyn

Winterson

Ek sit nou hier by een van ons plaaslike koffie-plekkies. Dis een van ons gunsteling ontbyt en koffie kuierplekkies.

Op koue dae maak hulle ‘n heerlike vuur met dik houte binne. En wanneer die son skyn is daar tafeltjies onder sambrele en bome buite.

Maar vandag sit ek op my eie hier in die hoekie van die koffiewinkel. Dis te koel vir buite sit. Ek bekyk nou al vir ‘n ruk die hoekie met ‘n bank en twee gemaklike vlerkstoele. Die son skyn warm en koesterend deur die groot vensters. En my siel en lyf bak te lekker in die gul strale. Man, pure frikken genotlike tevredenheid.

LollaGroete 🌞