Ek het myself voorgeneem om geen nuwejaarsvoornemes te hê vir 2026 nie. Dit is blitsvinnig verander. Hier is ‘n voorneme:
Verandering is deel van menswees. Ek reken tog dat daar oor die laaste paar jaar groot veranderinge, sommige buitensporig en onverwags vir baie van ons was. Skuiwe in ons dink, wees en doen wat van ons verwag het om dinge op nuwe maniere aan te pak.
Iets wat my al geruime tyd pla (laat skuldig voel) is dat ek bykans glad nie meer by enige van my naby-mense uitkom nie. En dit het gebruiklik geword om vinnig te sê: ons moet meer bymekaar uitkom, of ons gaan verseker binnekort planmaak. Net om nog ‘n jaar te wag, en dikwels realiseer hierdie planne glad nie.
Terwyl ek besef dat by mekaar uitkom meestal nie net een se verantwoordelikheid is nie, en dat die Lewe mense heel ingesluk het, neem ek my voor dat ek voortaan nie meer hierdie lee beloftes gaan vermaak nie. Ek verkies om eerlik te bieg, dat dit vir my al hoe moeiliker word om ‘uit te gaan’. Dat ek my huis en ons vier mure verkies. Dat, al is ek hoé lief vir iemand, die vooruitsig en uitvoering van ‘n kuiertjie elders my sommer bloot angstig laat voel.
Ja, hierdie doring kort ‘n sterk trekpleister. En glo vir my, tyd saam met my hartsmense is uiteindelik altyd genotvol, waardevol, kosbaar en ook broodnodig. So, ek sal elke uitreik en kuier vier vanjaar. My hart sal jubel en my siel sal dans. Maar tot dit gebeur, verkies ek geen bakstaan beloftes nie.