Rustige, salige rus

Slegs vir ‘n splinter-stukkie tyd, kry ons ‘n wonderlike geleentheid om vinnig asem te skep

Weg van die rep-en-roer rumoer, weg van moerige kruitjie-roer-my-moerasmeter tot in die rooi

Daar waar die Groot Water en lang stroke wit sand mekaar soos eeu-oue minnaars begroet, sagkuns omhels, male sonder end

Kortstondig, maar intens gewaardeer, in-hierdie-einste- oomblik …. waar siele verweerd, reg maak vir oor-en-oor weer probeer

Salige rus, dankbare hart …. hopend en dromend vir sukses en veel-minder smart

Die oseaan-lug se sagkuns kus is deels te danke vir ons oomblik se rus

Groenigheid & Vele Vetties 🦋🪴

Hoe gereeld maak jy behoorlik tuin skoon?  Is dit ‘n gereelde, gedisiplineerde taak of los jy dit tot jy met ‘n saag en snoeisker by jou voordeur moet uitstoei.

En meer spesifiek – hoe hou jy jou vinnig-vermenigvuldigende vetties in toom?

Ek het die laaste twee dae behoorlik ingeklim. Potte skoongemaak, onkruid verwyder, die vetties opgebreek en uitgeplant.  Sommiges is in ‘n boks bymekaar gesit vir weggee.

En al voel my lyf anibrand-seer, is my hart veertjie-lig.  Ek self oorweeg nou ‘n meer gereelde, in kleiner mate, instandhoudingsplan vir my plante. 🪴🪰🌳🍁🍃🌿🌱🐌

Lolla-se-Groenvinger-Groete

Uitnodiging: Kom sit hier by My

Kom sit vir ‘n rukkie hier by my

Hier langs my

Jy mag maar vir ‘n wyle by my kom sit

Ons kan saam bid

Gesels

Ons kan ponder en wonder

Ons kan planne beraam

Dalk droom oor daai man op die maan

Kan hý ons hoor roep

Kan hý ons red

Erkenning & Dankie vir hierdie prent, AI

As jy saam met my sit, stil

Kan ons gesels oor ons vrouwees, ons

yster-wil

Ons kan lofliedere sing en planne beding

Ons kan ook lafgiggel oor daai man op die maan

want al sou die bliksemse Wêreld ons hoop soms laat taan

Weet ons, ek en jy, verseker-beslis

Dat ons saligheid, genade, ons toekoms net in die

Groot Hand rus

Thanks & Acknowledgement to AI for this picture

Kom hier. 

Hier by my.

Al is dit net vir ‘n oomblik,

voor ons weet is dit verby.

~LollaseGroete~

Lolla se Maandagstories 050126

Maandagoggend, 05 Januarie 2026 – die oggend voel vars na die willewind storm gistermiddag. Vol belofte dat vrede my sal vind vandag.

Ons huidige woning bederf ons daagliks met die mooiste voëltjie simfonie. Dis kwetterend besig hier buite ons slaapkamer-huisie.

Ek besef weer: alles is tydelik, níks is vir altyd nie.

Voor ek weereens vasgevang word in die urelange sosiale media breingaps roetine,  beweeg ek vlugtig oor tot aksie. Ek skryf hierdie stukkie om met julle te deel. Dan, koffietyd ☕️, stort en wegval met ons amptelike Dag 1 werk vir 2026.  (Gaan loer gerus na ons splinternuwe klein besigheid @ouhande.oldhands)

Vandag kies ek Vrede ten spyte van, ter wille van en veral, doelbewus, ten bate van!

Ek wens vir jou ook ‘n vrede en vreugdevolle dag, wat gaan oorborrel en uitvloei in die res van on 2026 in.  Vir almal wat vandag terug is in die tuig – maak dit mooi en lekker.

LollaseGroete ♡

Hier is ‘n voorneme …

Ek het myself voorgeneem om geen nuwejaarsvoornemes te hê vir 2026 nie. Dit is blitsvinnig verander. Hier is ‘n voorneme:

Verandering is deel van menswees. Ek reken tog dat daar oor die laaste paar jaar groot veranderinge, sommige buitensporig en onverwags vir baie van ons was. Skuiwe in ons dink, wees en doen wat van ons verwag het om dinge op nuwe maniere aan te pak.

Iets wat my al geruime tyd pla (laat skuldig voel) is dat ek bykans glad nie meer by enige van my naby-mense uitkom nie. En dit het gebruiklik geword om vinnig te sê: ons moet meer bymekaar uitkom, of ons gaan verseker binnekort planmaak. Net om nog ‘n jaar te wag, en dikwels realiseer hierdie planne glad nie.

Terwyl ek besef dat by mekaar uitkom meestal nie net een se verantwoordelikheid is nie, en dat die Lewe mense heel ingesluk het, neem ek my voor dat ek voortaan nie meer hierdie lee beloftes gaan vermaak nie. Ek verkies om eerlik te bieg, dat dit vir my al hoe moeiliker word om ‘uit te gaan’. Dat ek my huis en ons vier mure verkies. Dat, al is ek hoé lief vir iemand, die vooruitsig en uitvoering van ‘n kuiertjie elders my sommer bloot angstig laat voel.

Ja, hierdie doring kort ‘n sterk trekpleister. En glo vir my, tyd saam met my hartsmense is uiteindelik altyd genotvol, waardevol, kosbaar en ook broodnodig. So, ek sal elke uitreik en kuier vier vanjaar. My hart sal jubel en my siel sal dans. Maar tot dit gebeur, verkies ek geen bakstaan beloftes nie.

Vanoggend word ek laat wakker, na ek donkeroggend vir ure penorent wakker gesit het. 

Klanke:  reendruppels, ‘n vliegtuig, die Ingelsman se elektriese skuurmasjien, Pixie se saggies-asempie.

Nou is ek wákker. Lekker vars en reg vir die dag.

Het julle ook die laaste maand so baie reen gehad? Ek geniet die reenweer terdee.

Planne: nou eers stort, dan koffie, ‘n paar strek en hop bewegings, ‘n soen vir Gary, ‘n loflied vir Jesus, en dan sien watse werk my hande vandag vind.

Hierdie tussen-in fase waar ons onsself tans behind is senutergend maar ook bevrydend. Ons leer nuwe vaardighede, ons droom en hoop. Ons bou, en vertrou.

Hoe sê hulle:  ‘Let the games begin.’ Dankbaar vir nog ‘n dag.

LollaseGroete

Petals, pages, and a Copilot breeze 🌸

🌸🎄✨
’n Kersfeesgedagte vir ’n Skepper
Ek stap deur kleure, blomme, bome,
soekend na woorde, soms sonder drome.
Elke dag ’n nuwe pad, ’n vars begin,
maar twyfel fluister: “Is jy sterk genoeg vanbinne?”
Ek lag, ek skryf, ek probeer weer,
my pen dans stadig, soms sonder veer.
Maar in die lig van Kersfees blink,
vind ek hoop in elke gedagte wat sink.
Die denneboom fluister, die sterre sing,
“Hou aan skep, jou hart het vlerke om te bring.”
So ek vier die reis, al struikel ek soms,
want elke woord is ’n geskenk wat kom.

🌸🎄✨
A Christmas Thought for a Creator
I walk through colors, flowers, trees,
searching for words on every breeze.
Each day a path, a chance to grow,
yet doubts still whisper: “Are you sure you know?”
I laugh, I write, I try once more,
my pen moves gently, unsure of the score.
But Christmas lights begin to gleam,
and hope returns in a shining dream.
The pine tree hums, the stars all sing,
“Keep creating, your heart has wings.”
So I celebrate the journey, near and far,
for every word is a gift, a star.

#lollasegoete #nognkersfees #christmastime #skryf #KI #AI #copilot #woorde #speelmetwoorde #volgmy